AFRIKA BOLWURM IS ‘N GEVAARLIKE KALANT

Dr Gerhard H Verdoorn, CropLife Suid-Afrika 082-446-8946

Die Lepidoptera orde in die wêreld van ongewerweldes is legio. Wonderlike vlinders en interessante motte is onder die gevleueldes wat onder ander ook met bestuiwing van baie blomplante te doene het. Daar is egter ‘n paar spesies onder die groot aantal van nagenoeg 180,00o soorte vlinders en motte wat die landbou se groot vyande is. Verlede jaar het die herfskommandowurm, oftewel Spodoptera frugiperda Suid-Afrika se gewasboere totaal onkant gevang en veral vir kleiner mielieboere geweldige skade veroorsaak. Boere is gewoond aan ‘n hele paar “wurms” wat gewasse takel maar toe die standaard plaagdoders teen die nuwe wurm faal, was dit duidelik dat ons met ‘n nuwe indringer te doene gehad het.

Miskien het die landswye fokus op die herfskommandowurm die landbousektor se aandag van die bekende plae afgelei, want in die begin van die 2107 somer het koring- en kanolaboere in die Wes-Kaap een van die ergste uitbrake van die bekende Afrika bolwurm beleef. Dit was behoorlik chaos met ‘n vrees dat die uitbraak die hele kanola-oes sou kelder. ’n Gepaardgaande probleem was die tekort aan metomiel wat gebruik kom word om die wurm hok te slaan. Metomiel is uiters effektief en alhoewel hierdie karbamaat baie giftig, breek dit baie vinnig af en skakel die risiko van vergiftiging uit. Helicoverpa armigera (die Afrika bolwurm) is ‘n gedugte vyand wat allerhande skades aan kontakgewasse, groente en vrugte kan veroorsaak. Dit is kommerwekkend dat boere onverhoeds deur die Afrika bolwurm betrap is en daarom behoort riglyne voor te hou vir die sinvolle bestuur van hierdie belangrike landbouplaag.

Wanneer gewasse soos kanola aangeplant word, is die plaagbeheersiklus alreeds in volle swang die dag wat die trekkers die laaste pit geplant het. Die natuur se honger hordes sit en wag vir die gewas om  te ontkiem en berei hulleself voor om sodanige gewas op die geskikte tyd in te val. Verlede jaar se uitbraak en ook onlangse gevalle in die Wes-Kaapse Overbergdistrik laat weereens die klem om geïntegreerde plaagbeheer (GIP) val. GIP beteken nie noodwendig om allerhande foefies in die beheerprogram in te werk nie maar eerder om slim te werk te gaan.

MONITERING

Dink aan plaagbeheer in ‘n militêre konteks: as die generaal nie die vyand se ontplooiings en bewegings uiters fyn dophou nie, is die kans om hulle die loef af te steek, uiters skraal. Mens leer ook in militêre doktrine dat die vyand aangeval moet word as hy op sy mees kwesbare is. vir die gewasboer is die parallel met die militêr om die situasie voortdurend met valkoë dop te hou. Voor die ontwikkeling van feromoon lokmiddels het dit beteken dat die gewas ten minste elke besoek moes word om te bepaal welke ongenooides hulle opwagting gemaak het. Sulke inspeksies bly steeds uiters waardevol want dit is wanneer die produsent eierpakkies mag raakloop wat sal beteken die aanslag is oppad. Laatmiddag en vroegaand besoeke is net so waardevol want as die flits se ligstraal wolke van motte optel is die vyand se eerste linie aanval reeds geloods. Die eierpakkies beteken hulle is in die loopgrawe en maak gereed vir ‘n infanterie aanval.

Gelukkig is feromone deesdae beskikbaar (kyk www.agri-intel.com onder African bollworm by die soekenjins) en dit maak vooraf waarskuwing baie maklik en effektief vir die boer. Let wel dat feromone nie totaal spesie-spesifiek is nie en daarom is identifikasie van die motte wat in die lokvalle gevang word, baie belangrik. Die internet is waardevol maar mag as gevolg van onbevestigde data nie noodwendig wetenskaplik korrek wees nie. Dit is waar CropLife Suid-Afrika met sy magdom wetenskaplikes van waarde is en ‘n goeie foto van die insekte hetsy as larwes of as motte kan per epos of selfoon aangestuur word vir hulp met identifikasie. Whatsapp het ons verlede jaar gehelp om landswyd vir boere die verskillende Lepidoptera te identifiseer al het sommige wetenskaplikes elders in Afrika gewerk. Daar is ook uitstekende boeke soos die “bybel” oor insekplae onder die titel Insects of Cultivated Plants and Natural Pastures in Southern Africa onder redaksie van Gerhard L. Prinsloo en Vivienne M. Uys.  Kortom dus, om peste en plae te identifiseer is deesdae nie meer ‘n wetenskaplike missie nie.  

Die feromoonlokvalle lok die vlieënde insekte aan met geslagslokmiddels of sosiale lokmiddels. Etikette sal aandui hoe dit ontplooi moet word en as daar soggens ‘n hele bondel motte is, dan moet die boer voorberei vir die moeilikheid. Hou die gewas fyn dop en soek die eierpakkies wat op die blare gedeponeer word. Onthou, daardie soldate is nig veilig in die loopgrawe en mens moet wag tot hulle uitbroei voor jy die aanval loods.

SINVOLLE BEHEERMAATREËLS

Die pas uitgebroeide larwes (wurms) is op hulle mees kwesbare vir plaagdoders en as die boer dan die aanslag met ‘n  geregistreerde middel loods, is die kans op sukses baie, baie goed. In terme van GIP is die beginsel om sag te begin, met ander woorde gebruik landboumiddels (plaagdoders) wat nie die natuurlike roofinsekte saam met die larwes van die bolwurms gaan vernietig nie. Dit is uiters belangrik omdat die opvolgende geslagte van die plaagspesie waarskynlik die roofinsekte ten prooi sal val as hulle behoue bly. Soms is ‘n biologiese middels soos Bacillus thuringiensis waarskynlik die beste om mee te begin want dit is sag, dog effektief en gee die roofinsekte dan kans om tande te slyp vir opvolg uitbrake.

As produsente nagelaat het om die monitering te doen en die plaag oorval die gewas moet die groot hamers ongelukkig gebruik word om totale oesverlies te voorkom. Kies dan ook middels uit die wat vir die bolwurm geregistreer is, wat vinnig uitklop. Metomiel is soos reeds vermeld wel baie giftig maar slaan die wurms blitsig uit en dit is wel vir kanola en koring geregistreer.

Een groot fout wat almal maak is om by een aktiewe bestanddeel vas te haak waarskynlik omdat dit goed werk. Die probleem is agter dat die insekte weerstand teen die so ‘n klas verbinding opbou. Die herfskommandowurm het alreeds vir ons die lesse van weerstand geleer deur piretroiede en selfs organofosfate af te lag. As ons die Afrika bolwurm gemaklik wil bestuur moet die verskillende groepe insekdoders afgewissel word. Gestel byvoorbeeld daar is twee bespuiting met piretroiede gedoen, dan is die sinvolle ding om byvoorbeeld oor te skakel na ‘n diamied soos chloorantraniliprool. Let egter op dat hierdie middel ‘n baie sagte, maar tog uiters effektiewe middel is wat tot weerstand ontwikkeling geneig is.  Ten einde die middel se bruikbaarheid te verleng moet die etiket aanwysings streng nagekom word, veral in terme maksimum aantal toedienings per seisoen die spuit intervalle. Daar is ander middels ook waarmee afgewissel kan word soos indoksakarb en emamektien bensoaat. Kyk op die hoofpaneel van die produketikette en maak seker dieselfde weerstandsgroep word nie herhaaldelik toegedien nie. Alle piretroiede behoort aan Groep 3 met ander woorde dis nie sinvol om twee piretroiede met mekaar af te wissel nie. Die organofosfate is Groep 1 en chloorantraniliprool is Groep 28. Praat met ‘n professionele oes adviseur oor ordentlike weerstand bestuur en werk dan ‘n beheerprogram uit waarin weerstandsgroep afgewissel word en biologiese middels bygewerk word. ‘n Ander wenk is dat wanneer die ruspes al groot is, is dit amper gewaarborgde moeilikheid om hulle met piretroiede te takel; piretroiede werk uitstekend as die wurmpies nog suigelinge is maar die hardebaarde drink die goed! 

OPVOLG INFESTATSIES

‘n Boer mag nooit gerus wees as rondte een teen die Afrika bolwurm gewen het nie. As iemand glo ons gaan enige plaagspesie op Moeder Aarde uitwis, dan moet hy weer dink. Die Afrika bolwurm is ‘n plaag wat as gevolg van die monokulture wat ons vir voedselproduksie kweek, ‘n baie lekker lewe ly en daarom moet die produsent aanneem dat daar elke jaar ‘n infestasie gaan wees. Wees dus gereed met die moniterings gereedskap en as die tekens van ‘n inval begin verskyn, maak ‘n plan en klop die vyand in sy jeug stadium. Wees ook bedag op die klimaat en die kondisies wat gunstig is vir die uitbreek van bolwurm. Een van die beste toepassings op selfone vir weervoorspelling is die Windy App. As mens ten minste weet wat die weer maak, kan jy die vyand uitoorlê voor hy sy legioene ontplooi.

Die slotsom is dat die Afrika bolwurm vir alle gewasboere insluitende kanola- en koringboere ‘n groot gevaar inhou. Gelukkig is daar goeie moniteringshulpmiddels en ‘n verskeidenheid natuurlike, biologiese en chemiese insekdoders wat die plaag met gemak kan beheer. CropLife SA stuur gereeld nuusflitse uit as plaaguitbrake dreig; ons het op die webtuiste ook ander inligting beskikbaar terwyl AgriIntel al die geregistreerde plaagdoders met hulle etikette en veiligheidsdata lys. Staan sterk!!

Tags:
Previous Post

GLYPHOSATE LITIGATION IN THE U.S.

Next Post

FARMERS, BEEKEEPERS, CROPLIFE SOUTH AFRICA AND RESEARCHERS TAKE HANDS TO ENSURE A BETTER FUTURE FOR HONEY BEES

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *