Riglyne vir die oprigting en bestuur van plaagdoderstore op plase

Elke plaas in Suid-Afrika maak gebruik van plaagdoders, hetsy sintetiese, natuurlike, biologiese of selfs organiese plaagdoders. Sulke middels wat as landboumiddels in die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947) bekend staan, is produkte wat ’n bepaalde gevaar vir mense en die omgewing mag inhou.

Dit is egter moontlik om die risiko wat plaagdoders inhou te bestuur deur die nodige bestuursmaatreëls in plek te stel. Vrugte- en groente-uitvoerprodusente is alreeds onderworpe aan die sertifi seringsagentskap GlobalGAP se vereistes, nie slegs vir die verantwoordelike gebruik van plaagdoders nie, maar ook vir die veilige berging daarvan op die plaas. Alhoewel min graanprodusente self direk uitvoer, is dit sinvol om ook bepaalde riglyne te volg vir die veilige berging van plaagdoders ten einde die risiko te verminder.

Ligging
Dit is raadsaam om die plaagdoderstoor ver weg van enige waterbronne soos stroompies, riviere, damme, panne en boorgate op te rig. Dit moet ook weg van enige wonings, melkstalle, krale of hokke geleë wees. ’n Goeie area is langs die stoor waar die implemente en trekkers geberg word. Bou die plaagdoderstoor aan die oostekant van die trekkerstoor sodat die middagson gekeer word. Dit sal die stoor redelik koel hou.

Alhoewel min graanprodusente self direk uitvoer, is dit sinvol om ook bepaalde riglyne te volg vir die veilige berging van plaagdoders ten einde die risiko te verminder.

Konstruksie
Die konstruksie van die stoor moet stewig van bakstene of beton wees met ’n digte dak wat nie die stoor noodwendig laat oorverhit nie. Konstruksiemateriaal moet verkieslik nie brandbaar wees nie. Die gebou moet goed geventileer wees – uittrekwaaiers is dus belangrik en dit moet verkieslik op die dak gemonteer wees. Vloere moet van beton gegiet wees (ten minste 75 mm dik), gelyk en glad afgewerk sodat enige verspilde plaag doders nie in gleuwe inloop of deur die beton geabsorbeer word nie.

Deure en vensterrame moet van staal wees en daar behoort ’n stewige staalveiligheidshek by die ingang te wees. Só ’n gebou sal ook diefstal bekamp. ’n Ryvlak van beton wat sowat 5 m wyd is, sal toegang vergemaklik. Dit is raadsaam om ’n betonpaadjie van 500 mm wyd om die stoor te giet en dit dan af te rond met ’n twee baksteen hoë keermuur. Indien daar grootskaalse verspilling is, sal dit deur die muurtjie ingeperk word.

Waarskuwings
’n Groot waarskuwingsbord van minstens 750 mm x 500 mm moet langs die stoor se deur aangebring word met die volgende items daarop:

  • Skedel en kruisbeen in rooi saam met die woord gevaar in dik rooi letters.
  • Toegang slegs vir gemagtigde persone in dik swart letters.
  • Plaagdoderstoor in dik rooi letters.
  • Rook, eet en drink verbode in dik swart letters.
  • Beskermende klere in dik swart letters gevolg deur die items wat gedra moet word soos rubberstewels, rubberhandskoene, volle oorpak, gesigmasker en hoofbedekking.
      • Noodnommers in dik rooi letters gevolg deur:
      • plaaseienaar se naam plus telefoonnommer;
      • bestuurder se naam plus telefoonnommer;
      • brandweer plus telefoonnommer;
      • polisie plus telefoonnommer;
      • hospitaal plus telefoonnommer; en
      • gifinligtingsentrum plus telefoonnommer.

So ’n bord behoort buite op ten minste een ander muur aangebring te word.

Noodtoerusting en opruimingstoerusting vir verspillings

Noodtoerusting
Voldoende brandbestrydingstoerusting, naamlik droëmateriaalbrandblussers en sand, moet beskikbaar wees. Daar moet ook ’n standaardnoodhulpkissie in die stoor wees wat verkieslik in ’n lugdigte plastiek-trommel geberg word sodat dit nie deur plaagdoderdampe gekontamineer word nie.

Daar moet ’n oogspoelbak met skoon water beskikbaar wees. Dit kan ’n gewone plastiekdrom wees met ’n sagte plastiekbottel waarmee water in die oë gespuit kan word. Opruimingstoerusting vir verspillings ’n 210 ℓ-oopbekplastiekdrom met ’n deksel, groot plastieksakke, ’n plastiese of vlekvryestaalgraaf, skoppie, plastiekbesem, vermikuliet en saagsels is nodig om verspillings op te ruim.

Die vermikuliet of saagsels word oor die verspilde materiaal gestrooi en vir ’n halfuur gelaat om dit te absorbeer, waarna dit met die besem, graaf en skoppie opgetel en in ’n plastieksak gegooi word. Seël dan die sak met sterk kleefband en stoor dit totdat dit afgevoer
kan word vir vernietiging deur ’n maatskappy wat in die bestuur van gevaarlike afval spesialiseer. Kyk op www.croplife.co.za onder  Waste Management vir dié maatskappye se kontakbesonderhede.

Waarskuwingskennisgewings
Binne die stoor moet die volgende kennisgewingborde aangebring word:

  • Brandtoerusting
  • Beskermende klere wat gedra moet word
  • Ontsnaproetes
  • Oogspoelbak
  • Eet, drink en rook verbode

Hierdie tipe tekens is by koöperasies en hardewarewinkels beskikbaar.

Veilige berging en veilige werksplek

Dit is raadsaam om  plaagdoders altyd op nie-absorberende rakke of plastiekpalette te berg. As houers op die betonvloere staan, dam water op en maak dit die houers klam en beskadig die etikette. Onkruiddoders wat met pers vierkante op die etikette geïdentifi seer word, moet altyd heel onder geplaas word as middels op verskillende rakke geberg word. Insekdoders en swamdoders moet bo onkruiddoders geberg word. Alle rooibandprodukte moet agter slot en grendel gebêre word. Vlambare middels moet van nievlambare middels geskei word en apart geberg word.

Maak seker etikette van houers word nie beskadig nie en hou altyd ’n lêer met ’n etiketafskrif van elke middel op datum. Skoon water moet by die stoor beskikbaar wees en ’n veiligheidstort moet verkieslik buite opgerig word. Alle beskermende klere, insluitend die respirators en fi lters wat gebruik word, moet in ’n lugdigte plastiektrommel in die stoor gebêre word – dit kan ook die trommel wees waarin die noodhulpkissie geberg word. Die stoor moet altyd gesluit wees en die sleutel moet deur slegs een verantwoordelike persoon gehou word.

Rekordhouding

’n Voorraadboek moet bygehou word waarin alle inkomende voorraad aangeteken word en die voorraad wat gebruik word moet daarteen ingeskryf word. Handhaaf die beginsel dat die oudste middels altyd eerste opgebruik word en die nuwe voorraad eers gebruik word as die ou voorraad op is.

 

SA Graan September 2019
Dr Gerhard Verdoorn,
Bedryfs- en rentmeesterskapsbestuurder

Previous Post

A look at integrated pest management

Next Post

Pesticide Use in the Wine Industry Placed in Context

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *