Die heuningmakers se toekoms is op die spel

Daardie bottel op die rak met die goue, stroperige vloeistof is uiters gesog by alle mense alhoewel dit ‘n plaas se prys is. Sedert oertye is heuning nie alleen die natuur se wondergawe as soetgoed vir die mens nie maar ook die bron van baie geneeskundige waarhede omdat dit heeltemal natuurlik is en mikro-hoeveelhede natuurlike geneesmiddels bevat. Dit was eers in die 20ste eeu wat mense die besondere waarde van die heuningmakers ontdek het toe iemand besef het hulle is verantwoordelik vir bestuiwing van natuurlike plantegroei en ‘n groot persentasie voedselgewasse.

Dit is ondenkbaar dat mense nie die grootste respek vir bye het nie en soms wil ek bye met perde vergelyk. Oor die aarde heen is perde in een of ander vorm nog altyd verbind aan die voortbestaan en vooruitgang van die mens en dis selde dat daar ooit berigte van
grootskaalse perde-uitwissing in die media is. Tog, as dit by die heuningby kom, is ons in Suid-Afrika al goed gepeper met berigte oor bye wat op groot skaal vergiftig word. In die afgelope drie jaar was daar nie minder nie as drie grootskaalse bye-uitwissings in die Wes-Kaap as gevolg van plaagdoders. Die prys is betaal nie alleen deur die bye nie maar ook deur die byeboere wat hul boerderye verloor het.

Verkeerde en onverantwoordelike plaagdodergebruik is die oorsaak van die byesterftes en CropLife SA probeer die saak beredder deur met die Suid-Afrikaanse byebedryf en gewasprodusente saam te werk. Nie alleen bye wat bestuiwingswerk doen word uitgewis nie maar die wilde bye wat hul bestuiwingswerk in die inheemse plantegroei doen word ook aangetas. Dit is ‘n uiters kommerwekkende situasie en veral as gerugte dat bye soms doelmatig doodgespuit word die waarheid is. Sonder bye om te bestuif gaan daar twee goed manifesteer: gewasse gaan nie hulle produkte, soos vrugte, lewer nie en die veldflora gaan nie saad produseer om aan te was nie.

Hoe gemaak ok bye te beskerm teen plaagdoderimpakte?
Geen plaagdodervervaardiger het dit al ooit ten doel gehad om bye dood te maak nie. Navorsing tydens die ontwikkeling van ‘n plaagdoder is juis daarop gemik om die moontlike impak van veral insekdoders te voorkom deur spesifieke veiligheidsmaatreëls vir bye op die etikette aan te bring. As daardie maatreëls nagekom word, is die kans vir impak op bye uiters gering. Die probleme begin wanneer etikette nie streng nagevolg word nie.

Dit is veral wanneer plaagdoders op gewasse gespuit word wat nie daarvoor geregistreer is nie. Verder is daar metodes van aanwending wat uiters riskant vir bye mag wees, soos wanneer lugbespuiting van imidaklopried op koring onwettig gedoen word en daar kanola naby is waar bye besig is met nektar- en stuifmeelversameling. Die groot evangelie rondom bye en plaagdoders is dus om die etikette streng na te volg, en in besonder die volgende:

  • Gebruik plaagdoders slegs op gewasse waarvoor dit geregistreer is;
  • Wend plaagdoders slegs met die toerusting aan soos op die etikette aangedui;
  • Wend plaagdoders binne die aanwendingsperiode aan soos op etikette aangedui;
  • Volg die bye-veiligheidsmaatreëls soos op etikette aangedui.

Daar gaan noodwendig situasies wees waar bye naby gewasse mag wees wat met insekdoders behandel moet word. Hierdie bye is meestal besig met bestuiwingswerk en is uiters sensitief vir enige plaagdoders wat mag oordryf na die gewasse wat hulle bestuif. Dit is dus noodsaaklik dat die gewasprodusent wat moet spuit, in noue kontak met die byeboer moet wees. ‘n Nuwe slimfoontoepassing, BeeMap Africa, is ontwikkel om as ‘n vroeë waarskuwingstelsel tussen gewasboere en byeboere op te tree. Wanneer die gewasboer beplan om te spuit, sleutel hy sy data in en die selfoon van die byeboer stuur onmiddellik ‘n waarskuwing wat die byeboer vroegtydig in kennis stel van die beplande spuitaksie. Dit sal dan die byeboer kans gee om die korwe genoegsaam te beskerm of te verwyder, te einde vergiftiging vry te spring.

Sommige gewasprodusente skakel oor na vroeë aand bespuiting wanneer bye nie meer aktief is nie. Dit is nie altyd moontlik nie want die weersomstandighede speel ‘n groot rol, maar ten minste is die bye dan rustig in die korwe en word nie direk geaffekteer deur bespuitings nie. Meeste plaagdoders se risiko vir bye neem beduidend af wanneer die middels op die gewas afgedroog het en dit help dan ook om bye te beskerm as die middels in die aand gespuit word. Sommige plaagdoders bevat spesiale bymiddels wat die aktiewe bestanddeel reënvas binne twee tot vier ure maak; die voordeel daarvan is dat dou die volgende oggend nie die aktiewe bestanddeel weer in oplossing sal plaas om bye te benadeel nie.

Planne om bye te ondersteun
Benewens die maatreëls om bye teen plaagdoders te beskerm, is daar ook ‘n toenemende neiging om maatreëls te implementeer wat direk tot bye se voordeel strek. Een van die mees belangrike dinge is om te verseker dat bye altyd kos beskikbaar het. Mens sal dink dis ondenkbaar dat bye kan honger ly, maar met die eienaardige weerpatrone en knellende droogtes is die lewe vir bye glad nie maklik nie. Wes-Kaapse boere kan bye tot ‘n groot mate van verhongering red deur ‘n mosaïek van inheemse blomplante aan te plant wat vir bye die nodige nektar en stuifmeel kan voorsien wanneer gewasse wat normaalweg hulle bron van kos is, dormant is.

Aalwyne en fynbos is ‘n wonderlike kombinasie met geen onderhoudskoste vir die boer nie. Plant hierdie plante langs landerye, langs boorde, tussen wingerde en sommer in die padreserwes ook, sodat bye ‘n gesonde en konstante bron van verskeidenheid plantsoorte as voedselbron kan hê. Waar byekorwe soms deur ratels getakel word, raak byeboere knorrig en die konflik mag tot pogings lei om die ratels dood te maak. Weereens is daar oplossings wat tot voordeel van produsente, byeboere en ratels is: plant ‘n staalpaal en plaas die korf daarop (omtrent 1.2 meter hoog) want dan kan die ratel nie die korf bykom nie, die bye is buite gevaar, die byeboer se gal word  nie suur vir die ratels nie en die gewasboer se bestuiwing word gedoen.

Belangrike wenke ter beskerming van bye CropLife Suid-Afrika stuur ‘n baie belangrike pleidooi na alle Wes-Kaapse boere, naamlik dat  laagdoders met groot omsigtigheid gebruik moet word. Daar is die afgelope drie jaar ernstige skade aan bye gedoen
as gevolg van onwettige gebruik van plaagdoders op kanola, koring, sitrus en wingerde. Dit skep nie alleen ‘n groot probleem vir byeboere nie, maar skep ‘n swak indruk van landbouers by die algemene publiek. Die grootste gevaar lê waarskynlik vir die uitvoerbedryf want as die buitelandse uitvoerinvoer sertifiseringsagentskappe uitvind dat bye doodgemaak word as gevolg van onverantwoordelike praktyke, kan sulke agentskappe dit maklik as ‘n handelsboikot teen Suid-Afrika gebruik.

Indien produsente die plaagdoders se etikette streng navolg, is die moontlikheid van enige negatiewe impakte uiters gering, selfs vir bye. Hou by etiketvoorskrifte en hou die Wes-Kaapse bestuiwers gesond en lewenskragtig.

Dr Gerhard Verdoorn
AgriAbout – September 2019

Previous Post

The Crop Circular – Third Edition

Next Post

A look at integrated pest management

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *